The following article appeared in the Afrikaans medium newspaper Beeld:

Ietermog hang aan ’n draadjie

Meer gestroop as olifante, renosters

Elise Tempelhoff

Woensdag 30 Julie 2014

Die grond-ietermagog. Dié Suid-Afrikaanse spesie is een van die agt wat in die wêreld gevind en ernstig bedreig word.

Die lewe van die ietermagog, ’n skubberige, skugter soogdiertjie, hang aan ’n draadjie.

So het die Wêreldbewaringsunie (IUCN) Dinsdag gesê toe dié organisasie sy jongste rooidatalys bekend gestel het.

Luidens die lys is die status van die agt spesies ietermagog wat in die wêreld aangetref word nou kwesbaar.

Prof. Ray Jansen van die departement omgewing-water- en aardwetenskappe aan die Tshwane-Universiteit van Tegnologie (TUT) het Dinsdag gesê die ietermagog het opgeskuif van “byna bedreig” tot “kwesbaar”.

“Dit beteken die ietermagog is byna op die rand van uitwissing.

“As buitengewone bewaringsmaatreëls nie dringend ingestel word nie, kan dié diertjies binne die volgende 15 jaar – of selfs vroeër – uitsterf,” het hy gesê.

Die IUCN het gesê die ietermagog word letterlik deur Oosterlinge en Asiate opgeëet. Dié organisasie wys daarop dat die ietermagog die enigste soogdier ter wêreld is wat met skubbe gepantser is. “Die skubbe is sy wapenrusting teen natuurlike vyande, maar dit bied geen beskerming teen stropers nie.”

Met meer as 1 miljoen van die diere wat die afgelope dekade onwettig uit die natuur verwyder is, maak dit van hom die wêreld se mees gestroopte dier, selfs meer as olifante en renosters, sê die IUCN.

Geregte met die vleis van die ietermagog is veral gesog onder welgestelde Asiate en Chinese.

Sommige Chinese glo ook dat die skubbe van die ietermagog medisinale eienskappe het en dat dit byvoorbeeld help om ’n swak bloedsomloop te verbeter.

Die IUCN wys daarop dat vier spesies ietermagog wat vroeër in Asië voorgekom het, byna uitgesterf het en dat stropers en onwettige handelaars Afrika nou binnegevaar het om die diere hier te kom stroop.

Jansen het gesê net een van die agt spesies ietermagog, die grond-ietermagog, kom in Suid-Afrika voor.

Hoewel die grond-ietermagog nog nie in massiewe hoeveelhede gestroop word vir die markte in die Ooste nie, is die moetie-handel en elektriese wildheinings dié diere se grootste vyande.

Volgens Jansen is die Afrika-ietermagog-werkgroep onlangs in die lewe geroep om onder meer bewusmakingsveldtogte oor die diere se lot van stapel te stuur.

Hy doen die afgelope vier jaar navorsing oor dié soogdiere en sê niemand in Suid-Afrika weet wat hul bevolkingsgetal is nie.

“Ons is besig om hulle te tel.”

Jansen het gesê deurdat die diere so skugter is en net snags uitkom om te vreet, is daar mense wat hulle in hul hele leeftyd nooit sal sien nie. Hulle het vroeër aan die Weskus- en Oos-Kaap voorgekom, maar het daar heeltemal uitgesterf. Hulle kom nou meestal in die noordelike dele van die land voor.

Download the article here